Bayer vier vrouwees in styl 

Na die sukses van verlede jaar se Vrouedae, is daar besluit om vanjaar weer die tafels te dek vir ’n teepartytjie soos geen ander. Vrouemaand is om die draai en vanjaar vier ons dit weer in styl vanaf 16-20 September 2019!

Dit is vir Bayer uiters belangrik om erkenning te gee aan die ondersteunende rol wat vrouens in die boerderygemeenskap in Suid-Afrika speel.

Bayer se Vrouedae is daarom nie alleenlik ’n geleentheid om vrouwees te vier nie, maar ook ’n platform om bewusmaking te skep van die belangrike rol wat ons boere se vroue in die landboubedryf vul.

Met ’n verskeidenheid soorte tee van regoor die wêreld, beloof hierdie saamkuiergeleentheid om een vir die boeke te wees. In die gees van lente, word vroue aangemoedig om enige uitrusting met ’n blom-element te dra.

GP van Rheede van Oudtshoorn sal ook optree as gaskunstenaar by die onderskeie geleenthede en die dames vermaak met sy pragtige sangtalent.

Die Vrouedae is ook ’n perfekte geleentheid om terug te gee aan die gemeenskap. Daar sal gedurende die dag ’n geldinsamelingsprojek gedryf word waartydens donasies aan minderbevoorregte studente gemaak kan word.