Bayer Vrouedae weer hoogtepunt op kalender 

Vir die afgelope 15 jaar is die Vrouedae reeds ’n hoogtepunt op die kalender en vanjaar was geen uitsondering nie. Hierdie geleenthede is oorspronklik in mielieproduksie-areas aangebied waar sowat 550 vroue die dae bygewoon het.Vanjaar se Vrouedae is in Lichtenburg, Wolmaransstad, Bethlehem, Heidelberg en Middelburg aangebied en was spesifiek gefokus daarop om kliënteverhoudinge in ’n baie kompeterende landbou-omgewing te bou en versterk.

Hierdie jaar se tema het die lentegees gevier en vroue is aangemoedig om uitrustings met blom-elemente te dra. GP van Rheede van Oudtshoorn het die dames vermaak terwyl Gerhard Verdoorn, Bedryfs- en Rentmeesterskapbestuurder van CropLife Suid-Afrika, as gasspreker opgetree het.

Magda du Toit, wat vanjaar vereer is vir haar 15-jaarlange betrokkenheid by die Vrouedae, meen dis die perfekte geleentheid vir Bayer om op ’n persoonlike vlak met die vroue in gesprek te tree.

Volgens Magda is die hoofdoel van hierdie dae om met boere se vroue te gesels oor:

  • Huidige landboukwessies
  • Bayer se produkaanbod en -voordele
  • Persepsies en kennis oor biotegnologie en glifosaat
  • Bayer se volhoubare landbou-inisiatief

Van die dames by die Vrouedae spog met hul blom-uitrustings.

Magda meen dat Bayer hul, met hierdie geleenthede, ten doel stel om bewustheid te skep en feitelike kennis van biotegnologie oor te dra. Verder stel dit ook ’n platform daar vir die bespreking van kwessies wat verband hou met volhoubare produksie sowel as uitdagings wat die landbousektor tans in die gesig staar.

Leana Kleyn van Vingertrek Boerdery meen die Vrouedae speel ’n kardinale rol juis weens die informatiewe aard van die sessies.

“Ek dink dis baie belangrik dat Bayer die Vrouedae aanbied omdat die inligting wat ’n mens daar buite kry partykeer verwarring kan veroorsaak. Die Vrouedag is vir my lekker om die inligting van Bayer sélf te ontvang en ’n verstaan te kry van die produkte,” sê sy.

Vir Linda Taljaard, wat die Vrouedae reeds sedert die beginjare bywoon, is dié geleenthede ’n belangrike manier om die rol van die vrou in die boerdery te bevestig en uit te bou.

“As daar nie ’n vrou is om die krag te gee, die anker en die stabiliteit te bring en die kommer te help verwerk in hierdie swaar tye waarin ons leef nie, dan gaan dit moeilik wees. Daarom is dit vir my so belangrik dat hierdie dae aangebied word - om ons positief te hou en ons ook in te lig.”

Besoek gerus ons Facebookblad en gaan “tag” jouself in van die mooiste oomblikke by die Vrouedae.